1 NÁ hierdie dinge het koning Ahasvéros Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, groot gemaak en hom verhoog en sy setel hoër gestel as dié van al die vorste wat by hom was.
2 En al die dienaars van die koning wat in die poort van die koning was, het gebuig en voor Haman neergeval; want so het die koning aangaande hom bevel gegee; maar Mórdegai het nie gebuig of neergeval nie.
3 En die dienaars van die koning, in die poort van die koning, het aan Mórdegai gesê: Waarom oortree jy die gebod van die koning?
4 En toe hulle hom dit elke dag sê, en hy nie na hulle luister nie, het hulle dit aan Haman meegedeel om te sien of die handelwyse van Mórdegai sou standhou, want hy het hulle te kenne gegee dat hy ’n Jood was.
5 Toe Haman sien dat Mórdegai nie buig en voor hom nie neerval nie, was Haman met woede vervul.
6 Maar hy het dit vir hom te gering geag om die hand aan Mórdegai alleen te slaan; want hulle het hom die volk van Mórdegai te kenne gegee. Daarom het Haman daarna gesoek om al die Jode wat in die hele koninkryk van Ahasvéros was, die volk van Mórdegai, te verdelg.
7 In die eerste maand, dit is die maand Nisan, in die twaalfde jaar van koning Ahasvéros, het hulle die Pur, dit is die lot, voor Haman gewerp vir elke dag en vir elke maand, twaalf in getal, dit is die maand Adar.
8 Toe sê Haman aan koning Ahasvéros: Daar is een volk wat verstrooid en afgesonderd is tussen die volke in al die provinsies van u koninkryk, en hulle wette is anders as dié van enige volk; ook hou hulle die wette van die koning nie, sodat dit die koning nie pas om hulle te laat begaan nie.
9 As die koning dit goedvind, laat daar dan geskrywe word om hulle te verdelg, en ek sal tienduisend talente silwer afweeg in die hande van die beamptes om dit by die skatte van die koning te voeg.
10 Toe trek die koning sy seëlring van sy hand af en gee dit aan Haman, die seun van Hammedáta, die Agagiet, die teëstander van die Jode.
11 En die koning het aan Haman gesê: Die silwer word jou geskenk; ook die volk, om daarmee te doen soos goed is in jou oë.
12 Toe is die skrywers van die koning geroep in die eerste maand, op die dertiende dag daarvan, en daar is geskrywe net soos Haman beveel het aan die landvoogde van die koning en aan die goewerneurs wat oor elke provinsie was, en aan die vorste van elke volk, aan elke provinsie volgens sy skrif en aan elke volk in sy taal; in die naam van koning Ahasvéros is dit geskrywe en verseël met die seëlring van die koning.
13 En briewe is gestuur met die hardlopers na al die provinsies van die koning om al die Jode te verdelg, dood te maak en uit te roei, die seun sowel as die grysaard, die kindertjies en die vroue, op een dag, op die dertiende van die twaalfde maand, dit is die maand Adar, en om hulle besittings as buit te plunder.
14 ’n Afskrif van die bevelskrif moes as wet in elke provinsie uitgevaardig en openbaar gemaak word aan al die volke, om gereed te wees teen daardie dag.
15 Die hardlopers het haastig op bevel van die koning uitgegaan, en die wet is in die vesting Susan uitgevaardig terwyl die koning en Haman sit en drink; maar die stad Susan was in verwarring.