7 Toe deel Mórdegai hom mee alles wat hom oorgekom het, en die juiste bedrag van die silwer wat Haman beloof het om in die skatte van die koning af te weeg as prys vir die Jode om hulle uit te roei.
8 En hy het hom ’n afskrif gegee van die bevelskrif wat in Susan uitgevaardig was om hulle te verdelg, sodat hy dit aan Ester kon wys en haar die saak kon meedeel en haar kon opdra om na die koning te gaan om hom genade te vra en by hom ’n voorspraak te wees vir haar volk.
9 Daarop het Hatag ingegaan en die woorde van Mórdegai aan Ester meegedeel.
10 Toe sê Ester vir Hatag, terwyl sy hom ’n opdrag gee aan Mórdegai:
11 Al die dienaars van die koning en die volk van die provinsies van die koning weet dat vir elke man of vrou wat na die koning in die binneste voorhof ingaan, sonder dat hy geroep is, een en dieselfde wet geld: hy moet gedood word; behalwe wanneer die koning sy goue septer na hom uitsteek, dat hy mag lewe; en ek is nou al dertig dae lank nie geroep om by die koning in te kom nie.
12 En hulle het die woorde van Ester aan Mórdegai meegedeel.
13 Daarop sê Mórdegai dat hulle Ester moes antwoord: Verbeel jou nie dat jy alleen uit al die Jode in die huis van die koning sal vrykom nie.