6 Nadat Haman ingekom het, vra die koning hom: Wat moet met die man gedoen word aan wie die koning eer wil bewys? Haman dink toe by homself: Aan wie sou die koning eer wil bewys meer as aan my?
7 Daarom het Haman vir die koning gesê: Die man aan wie die koning eer wil bewys —
8 laat hulle ’n koninklike kleed bring waarmee die koning bekleed was, en ’n perd waar die koning op gery het en op die kop waarvan ’n koninklike kroon gesit is;
9 en laat hulle die kleed en die perd afgee aan een van die vorste van die koning, van die vername manne, dat hulle dit die man aantrek aan wie die koning eer wil bewys; en hulle moet hom laat ry op die perd oor die stadsplein en voor hom uitroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.
10 Toe sê die koning vir Haman: Neem gou die kleed en die perd soos jy gespreek het, en doen so aan Mórdegai, die Jood, wat in die poort van die koning sit; jy moet nie een woord onvervuld laat bly van alles wat jy gespreek het nie.
11 En Haman het die kleed geneem en die perd, en hy het Mórdegai aangetrek en hom laat ry oor die stadsplein en voor hom uitgeroep: So word gedoen aan die man aan wie die koning eer wil bewys.
12 Daarna het Mórdegai teruggegaan na die poort van die koning; maar Haman het hom gehaas na sy huis toe, treurig en met bedekte hoof.