10 En in dié dag sal die nasies vra na die wortel van Ísai, wat daar staan as ’n banier van die volke, en sy rusplek sal heerlik wees.
11 En in dié dag sal die Here weer vir die tweede keer sy hand uitstrek, om die oorblyfsel van sy volk los te koop wat sal oorbly uit Assirië en Egipte en Patros en Kus en Elam en Sínear en Hamat en uit die kuslande van die see;
12 en Hy sal ’n banier ophef vir die nasies en bymekaar laat kom die seuns van Israel wat verdryf is, en versamel die dogters van Juda wat verstrooi is, uit die vier hoeke van die aarde.
13 Dan sal die naywer van Efraim verdwyn, en die teëstanders van Juda sal uitgeroei word; Efraim sal Juda nie beny nie, en Juda sal Efraim nie benoud maak nie.
14 Maar hulle sal die Filistyne op die skouer vlieg teen die weste en saam die kinders van die Ooste plunder; Edom en Moab is die buit van hulle hand, en die kinders van Ammon is hulle onderdanig.
15 En die Here sal die seetong van Egipte met die banvloek tref en deur sy gloeiende wind sy hand oor die Eufraat swaai en dit uitmekaar slaan in sewe strome, sodat ’n mens met skoene daardeur kan loop.
16 En daar sal ’n grootpad wees vir die oorblyfsel van sy volk wat oorbly uit Assur, soos daar een gewees het vir Israel op die dag toe hulle uit Egipteland opgetrek het.