1 TER wille van Sion sal Ek nie swyg nie en ter wille van Jerusalem nie stil wees nie, totdat sy geregtigheid uitbreek soos ’n glans en sy heil soos ’n fakkel wat brand.
2 En die nasies sal jou geregtigheid sien en al die konings jou heerlikheid; en jy sal met ’n nuwe naam genoem word wat die mond van die Here sal noem.
3 En jy sal ’n sierlike kroon wees in die hand van die Here en ’n koninklike tulband in die hand van jou God.
4 Jy sal nie meer genoem word Verlatene nie, en jou land sal nie meer genoem word Wildernis nie. Maar jy sal genoem word: my welbehae, en jou land: die getroude; want die Here het ’n behae in jou, en jou land sal getroud wees.
5 Want soos ’n jonkman ’n jongedogter trou, so sal jou kinders jou trou; en soos die bruidegom bly is oor die bruid, sal jou God oor jou bly wees.
6 o Jerusalem, Ek het wagte op jou mure uitgesit wat gedurigdeur die hele dag en die hele nag nie sal swyg nie. o Julle wat die Here herinner aan sy beloftes — moenie rus nie
7 en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ’n lof op aarde!
8 Die Here het gesweer by sy regterhand en by sy magtige arm: Waarlik, Ek sal jou koring nie meer gee dat jou vyande dit eet nie, en uitlanders sal jou mos nie drink waarvoor jy gewerk het nie.
9 Maar hulle wat dit insamel, sal dit eet en die Here prys; en hulle wat dit oes, sal dit drink in my heilige voorhowe.
10 Gaan in, gaan in deur die poorte, berei die weg van die volk! Vul op, vul op die grootpad, gooi die klippe weg, steek ’n banier op oor die volke!
11 Kyk, die Here laat dit hoor tot by die einde van die aarde: Sê aan die dogter van Sion: Kyk, jou heil kom; kyk, sy loon is by Hom en sy beloning is voor sy aangesig.
12 En hulle sal genoem word: die heilige volk, die verlostes van die Here; en jy sal genoem word: die begeerde, die stad wat nie verlaat is nie.