9 Kyk, die dag van die Here kom, verskriklik, met grimmigheid en toorngloed, om die aarde ’n woesteny te maak en sy sondaars daaruit te verdelg.
10 Want die sterre van die hemel en sy Oríons sal hulle lig nie laat skyn nie; die son is duister by sy opgang, en die maan laat sy lig nie skyn nie.
11 En Ek sal aan die wêreld sy boosheid besoek, en aan die goddelose hulle ongeregtigheid; en Ek sal die trots van die vermeteles laat ophou en die hoogmoed van tiranne verneder.
12 En Ek sal sterwelinge skaarser maak as fyn goud, en mense as goud van Ofir.
13 Daarom sal Ek die hemel laat sidder, en die aarde sal wyk uit sy plek met gebeef, vanweë die grimmigheid van die Here van die leërskare en vanweë die dag van sy toorngloed.
14 En soos ’n gemsbok wat gejaag word, en soos kleinvee wat niemand bymekaar maak nie, sal hulle elkeen draai na sy volk toe en elkeen vlug na sy land toe.
15 Elkeen wat gevind word, word deurboor; en elkeen wat gegryp word, val deur die swaard.