1 GODSPRAAK oor Moab. Waarlik, in die nag is Ar-Moab verwoes, vernietig! Waarlik, in die nag is Kir-Moab verwoes, vernietig!
2 Hulle gaan op na die tempel, en Dibon na die hoogtes om te ween; Moab huil op Nebo en in Medéba; op al hulle hoofde is ’n kaalte, elke baard is afgeskeer.
3 Op hul strate het hulle rouklere aangegord; op hulle dakke en op hulle pleine huil alles en smelt weg in geween.
4 Hesbon en Eleále skreeu, hulle stem word gehoor tot Jahas toe; daarom hef die gewapende manne van Moab ’n angsgeskreeu aan, sy siel sidder.
5 My hart skreeu oor Moab, sy vlugtelinge kom tot by Soar, Eglat-Selísia. Want die hoogte van Luhit beklim hulle met geween; ja, op pad na Horonáim laat hulle ’n geskreeu van verwoesting weerklink;