10 Want jy het vergeet die God van jou heil en nie gedink aan die rots wat jou toevlug was nie. Daarom lê jy lieflike tuine aan en beplant dit met uitlandse wingerdstokke;
11 die dag as jy plant, laat jy dit groei, en in die môre laat jy jou saad uitspruit; maar dit sal wees ’n hoop geoeste graan op die dag van krankheid en ongeneeslike smart.
12 WEE die gebruis van baie volke — soos die gebruis van die see, so bruis hulle! En die gedruis van nasies — soos die gedruis van geweldige waters, so maak hulle gedruis!
13 Nasies maak gedruis soos die gedruis van baie waters; maar Hy dreig hulle, en hulle vlug ver weg en word gejaag soos kaf van die berge voor die wind en soos strooi voor die stormwind.
14 In die aand — daar is verskrikking! Voordat dit môre word, is hulle nie meer nie. Dit is die deel van hulle wat ons plunder, en die lot van hulle wat ons beroof.