1 GODSPRAAK oor die woestyn van die see. Soos stormwinde in die Suidland deurtrek, kom dit uit die woestyn, uit ’n vreeslike land!
2 ’n Harde gesig is my te kenne gegee: Die ontroue handel troueloos, en die verwoester verwoes. Trek op, Elam! Beleër, Medië! Aan alle gesug maak Ek ’n einde.
3 Daarom is my heupe vol siddering, weë het my aangegryp soos die weë van een wat baar; ek buig my krom, sodat ek nie hoor nie; ek is verskrik, sodat ek nie sien nie.
4 My hart duisel, angs oorval my; dit maak vir my die skemeraand wat ek liefhet, tot ’n verskrikking.
5 Hulle maak die tafel gereed, hulle sprei die tapyt, hulle eet, drink ... Staan op, o vorste, salf die skild!
6 Want so het die Here vir my gesê: Gaan heen, sit ’n wag uit; laat hom te kenne gee wat hy sien;
7 en sien hy ’n stoet ruiters, twee aan twee, ’n stoet esels, ’n stoet kamele, dan moet hy skerp luister, so skerp as hy kan.