1 GODSPRAAK oor Tirus. Huil, skepe van Tarsis! want dit is verwoes, sodat daar geen huis, geen terugkeer meer is nie. Uit die land van die Kittiërs het dit aan hulle openbaar geword.
2 Staan verstom, inwoners van die kusland! Die koopmans van Sidon wat oor die see vaar, het jou vroeër gevul.
3 En op groot waters is die saad van Sigor, die oes van die Nyl, in hom ingebring; en so het hy ’n handelswins vir die nasies geword.
4 Staan beskaamd, Sidon, want die see, die vesting van die see, spreek en sê: Ek het geen weë gehad en nie gebaar nie, en ek het geen jongmanne grootgemaak of jongedogters opgevoed nie.
5 As die tyding na Egipte kom, beef hulle daar van angs by die tyding aangaande Tirus.
6 Vaar na Tarsis oor, huil, inwoners van die kusland!
7 Is dít julle uitgelate stad wat in die dae van die voortyd sy oorsprong het, wie se voete hom ver weggedra het om in vreemde lande te vertoef?