15 Omdat julle sê: Ons het ’n verbond met die dood gesluit, en met die doderyk het ons ’n verdrag aangegaan; as die golwende gésel deurtrek, sal hy na ons nie kom nie; want ons het die leuen ons skuilplek gemaak en ons in bedrog weggesteek —
16 daarom, so sê die Here Here: Kyk, Ek lê in Sion ’n grondsteen, ’n beproefde steen, ’n kosbare hoeksteen wat vas gegrondves is; hy wat glo, sal nie haastig wees nie.
17 En Ek sal die reg tot ’n riglyn maak, en die geregtigheid tot ’n skietlood; en die hael sal die leuendak wegruk en die water die skuilplek wegspoel.
18 En julle verbond met die dood sal uitgewis word, en julle verdrag met die doderyk nie standhou nie; as die golwende gésel deurtrek, sal julle deur hom vertrap word.
19 So dikwels as hy deurtrek, sal hy julle gryp; want môre vir môre sal hy deurtrek, by dag en by nag. En dit sal net verskrikking wees om so ’n openbaring te verneem.
20 Want die bed sal te kort wees dat iemand hom daarop kan uitrek, en die kombers te smal dat iemand hom daarin kan toedraai.
21 Want die Here sal Hom gereed maak soos by die berg Pérasim; Hy sal aanstorm soos in die dal by Gíbeon om sy werk te doen — vreemd is sy werk! En om sy daad te verrig — ongehoord is sy daad!