5 Maar die menigte van jou vyande sal word soos dun stof, en die menigte van die tiranne soos kaf wat wegwaai; en dit sal heeltemal onverwags gebeur.
6 Vanweë die Here van die leërskare sal jy in genade besoek word, met donder en aardbewing en groot gedruis, wind en storm en die vlam van ’n verterende vuur.
7 En soos ’n droom, ’n naggesig, sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen Áriël, ja, almal wat teen hom oorlog toe trek en teen sy bergvesting en hom benoud maak.
8 En soos ’n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en — sy siel is leeg; en soos ’n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en — hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion.
9 Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.
10 Want die Here het oor julle uitgegiet ’n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind.
11 So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ’n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.