8 En soos ’n hongerige droom dat hy eet, maar hy word wakker en — sy siel is leeg; en soos ’n dorstige droom dat hy drink, maar hy word wakker en — hy is moeg en sy siel versmag: só sal die menigte van al die nasies wees wat oorlog toe trek teen die berg Sion.
9 Vertoef, en verwonder julle! Wees blind en verblind! Hulle is dronk, maar nie van wyn nie; hulle waggel, maar nie van sterk drank nie.
10 Want die Here het oor julle uitgegiet ’n gees van diepe slaap, en Hy het julle oë — die profete — toegesluit en julle hoofde — die sieners — toegebind.
11 So het dan die gesig van al hierdie dinge vir julle geword soos die woorde van ’n verseëlde boek wat hulle gee aan iemand wat kan lees, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie, want dit is verseël.
12 Of hulle gee die boek aan iemand wat nie kan lees nie, met die woorde: Lees dit tog! Maar hy sê: Ek kan nie lees nie.
13 En die Here het gesê: Omdat hierdie volk nader kom met hulle mond en My eer met hulle lippe, terwyl hulle hul hart ver van My hou, sodat hulle vrees vir My ’n aangeleerde mensegebod is,
14 daarom sal Ek voortgaan om wonderlik te handel met hierdie volk, wonderlik en wonderbaar; en die wysheid van hulle wyse manne sal vergaan, en die verstand van hulle verstandige mense sal wegskuil.