17 Eenduisend van julle sal vlug vir die oorlogsgeroep van een enkele, vir die oorlogsgeroep van vyf, totdat julle oorbly soos ’n vlagpaal op ’n bergtop en soos ’n banier op ’n heuwel.
18 En daarom sal die Here met ongeduld daarop wag om julle genadig te wees, en daarom sal Hy Hom verhef om Hom oor julle te ontferm; want die Here is ’n God van die gerig. Welgeluksalig almal wat op Hom wag!
19 Want ’n volk sal op Sion, in Jerusalem, woon; jy sal nie meer ween nie; sekerlik sal Hy jou genade bewys op jou hulpgeroep; sodra Hy hoor, antwoord Hy jou.
20 Die Here gee julle wel brood van benoudheid en water van bedruktheid, maar jou leraars sal hulle nie langer verberg nie — maar jou oë sal jou leraars sien;
21 en jou ore sal ’n woord agter jou hoor wat sê: Dit is die weg, wandel daarop! wanneer julle regs of wanneer julle links wil gaan.
22 En julle sal verontreinig die oortreksel van jou gesnede beelde van silwer en die beslag van jou gegote beeld van goud; jy sal dit weggooi soos iets wat besoedel is. Weg daarmee! sal jy daarvan sê.
23 Dan sal Hy reën gee vir die saad waarmee jy die grond besaai, en broodkoring wat die grond voortbring, en dit sal smaaklik en voedsaam wees; jou vee sal in dié dag wei op ’n uitgestrekte weiveld;