1 EN toe koning Hiskía dit hoor, het hy sy klere geskeur en hom met ’n roukleed bedek en in die huis van die Here gegaan.
2 Daarna stuur hy Éljakim, wat oor die paleis was, en Sebna, die skrywer, en die oudstes van die priesters, met rouklere bedek, na die profeet Jesaja, die seun van Amos.
3 En hulle sê vir hom: So sê Hiskía: Vandag is ’n dag van benoudheid en straf en lastering; want die kinders het tot by die geboorte gekom, maar daar is geen krag om te baar nie.
4 Miskien sal die Here u God die woorde hoor van die rábsake wat deur sy heer, die koning van Assirië, gestuur is om die lewende God te smaad, en sal Hy hom straf oor die woorde wat die Here u God gehoor het; hef dan ’n gebed op vir die oorblyfsel wat nog aanwesig is.
5 En toe die dienaars van koning Hiskía by Jesaja kom,
6 sê Jesaja vir hulle: So moet julle jul heer antwoord: So spreek die Here: Vrees nie vir die woorde wat jy gehoor het, waarmee die dienaars van die koning van Assirië My gelaster het nie.
7 Kyk, Ek sal ’n gees in hom gee, dat hy ’n gerug hoor en na sy land terugtrek; en Ek sal hom in sy land deur die swaard laat val.