14 Soos ’n swaweltjie of kraanvoël, so het ek gepiep; ek het gekir soos ’n duif; my oë het dof gekyk na bo: Here, ek is benoud, wees U my Borg!
15 Wat sal ek spreek, aangesien Hy my dit beloof het en Hy self dit gedoen het? Ek sal soetjies voortgaan al my jare vanweë die bitterheid van my siel.
16 Here, by hierdie dinge leef ’n mens, en geheel en al is daarin die lewe van my gees: laat my dan gesond word en laat my lewe!
17 Kyk, tot heil het die bitter, ja, bitter lyde my geword; maar U, U het my siel liefgehad en getrek uit die kuil van vernietiging. Want U het al my sondes agter u rug gewerp.
18 Want die doderyk sal U nie loof nie, die dood U nie prys nie; die wat in die kuil neerdaal, sal op u trou nie hoop nie.
19 Die lewende, die lewende, dié sal U loof, soos ek vandag; die vader maak aan die kinders u trou bekend.
20 Die Here staan gereed om my te verlos; daarom sal ons op my snaarinstrumente speel al die dae van ons lewe, by die huis van die Here.