4 Elke dal moet opgevul en elke berg en heuwel klein gemaak word; en die bult moet ’n gelykte en die rotsagtige plekke ’n laagte word.
5 En die heerlikheid van die Here sal geopenbaar word, en alle vlees tesame sal dit sien: want die mond van die Here het dit gespreek.
6 ’n Stem sê: Roep! En hy vra: Wat moet ek roep? Alle vlees is gras, en al sy aanvalligheid soos ’n blom van die veld.
7 Die gras verdor, die blom verwelk as die asem van die Here daarin blaas. Voorwaar, die volk is gras!
8 Die gras verdor, die blom verwelk; maar die woord van onse God hou stand in ewigheid.
9 o Sion, verkondiger van goeie boodskap, klim op ’n hoë berg! o Jerusalem, verkondiger van goeie boodskap, hef jou stem op met mag; hef dit op, wees nie bevrees nie! Sê aan die stede van Juda: Hier is julle God!
10 Kyk, die Here Here sal kom as ’n Sterke, en sy arm sal heers; kyk, sy loon is by Hom, en sy beloning is voor sy aangesig.