1 LUISTER in stilte na My, o eilande, en laat die volke nuwe krag kry; laat hulle aankom, laat hulle dan spreek; laat ons saam na die gereg gaan.
2 Wie het hom uit die Ooste verwek vir wie die oorwinning tegemoet tree by elke voetstap? Wie gee nasies aan hom oor en laat hom konings vertrap, wie se swaard hulle maak soos stof, wie se boog hulle maak soos ’n dwarrelende stoppel,
3 dat hy hulle agtervolg, ongehinderd verbytrek, die pad met sy voete nie betree nie?
4 Wie het dit gedoen en tot stand gebring? Hy wat die geslagte roep van die begin af; Ek, die Here, die Eerste, en by die laaste is Ek dieselfde.
5 Die eilande het dit gesien en gevrees, die eindes van die aarde het gebewe; hulle het nader gekom en toegestroom.
6 Die een het die ander gehelp en aan sy metgesel gesê: Wees sterk!
7 En die ambagsman het die goudsmid versterk, hy wat met die hamer plat slaan, hom wat op die aambeeld slaan, terwyl hy van die soldeersel sê: Dit is goed! Daarna slaan hy dit vas met spykers, dat dit nie wankel nie.