15 Ek is die Here, julle Heilige; die Skepper van Israel, julle Koning.
16 So sê die Here wat in die see ’n weg en in die sterk waters ’n pad gemaak het,
17 wat waens en perde, leërmag en held laat uittrek het; tesame lê hulle, hulle sal nie opstaan nie; hulle is uitgeblus, soos ’n lamppit uitgedoof.
18 Dink nie aan die vorige dinge nie, en slaan geen ag op wat vroeër gebeur het nie.
19 Kyk, Ek gaan iets nuuts maak; nou sal dit uitspruit; sal julle dit nie merk nie? Ja, Ek maak ’n pad in die woestyn, riviere in die wildernis.
20 Die wilde diere van die veld sal My eer, die jakkalse en die volstruise; want Ek gee waters in die woestyn, riviere in die wildernis om my volk, my uitverkorene, te laat drink.
21 Die volk wat Ek vir My geformeer het, hulle sal my lof verkondig.