13 Die timmerman span ’n lyn; hy trek hom af met ’n potlood; hy bewerk hom met skawe en teken hom met ’n passer en maak hom na die beeltenis van ’n man, na die skoonheid van ’n mens, om in ’n huis te woon.
14 Een gaan sederbome afkap, en hy neem ’n steeneik of ’n eikeboom en laat een vir hom opgroei onder die bome van die bos. Hy het ’n pynboom geplant, en die reën het dit grootgemaak.
15 Dan dien dit die mens as brandhout, en hy neem daarvan en maak hom warm; ook steek hy dit aan die brand en bak brood; ook maak hy daar ’n god van en buig hom daarvoor neer; hy maak daar ’n gesnede beeld van en kniel daarvoor neer.
16 Die helfte daarvan het hy in die vuur verbrand: by die een helfte eet hy vleis, hy maak braaivleis klaar en word versadig; ook maak hy hom warm en sê: Ha, ek het warm geword, ek het vuur gesien!
17 En van wat oor is, maak hy ’n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
18 Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
19 en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ’n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ’n stuk hout?