17 En van wat oor is, maak hy ’n god, sy gesnede beeld; hy kniel daarvoor neer en buig hom en aanbid dit en sê: Red my, want u is my god!
18 Hulle weet nie en verstaan nie, want hulle oë is toegesmeer, sodat hulle nie sien nie, hulle harte, sodat hulle nie verstaan nie;
19 en niemand neem dit ter harte nie, en daar is geen kennis of verstand om te sê nie: Die helfte daarvan het ek verbrand in die vuur, en ook het ek op die kole daarvan brood gebak; ek het vleis gebraai en geëet; en sal ek van die oorblyfsel daarvan ’n gruwel maak? Sal ek neerkniel voor ’n stuk hout?
20 Hy wat hom besig hou met as, ’n bedroë hart het hom verlei; sodat hy sy siel nie kan red, of kan sê nie: Is daar geen leuen in my regterhand nie?
21 Dink aan hierdie dinge, o Jakob en Israel! Want jy is my kneg; Ek het jou geformeer; jy is my kneg, Israel! Jy sal deur My nie vergeet word nie.
22 Ek delg jou oortredinge uit soos ’n newel en jou sondes soos ’n wolk; keer terug na My, want Ek het jou verlos.
23 Jubel, o hemele, want die Here het dit gedoen. Juig, dieptes van die aarde! Breek uit in gejubel, o berge, bosse en al die bome daarin! Want die Here het Jakob verlos, en Hy sal Homself verheerlik aan Israel.