6 SO sê die Here, die Koning van Israel en sy Losser, die Here van die leërskare: Ek is die Eerste, en Ek is die Laaste, en buiten My is daar geen God nie.
7 En wie roep soos Ek — laat hom dit dan te kenne gee en aan My voorlê — vandat Ek die volk van die ou tyd gegrond het? En laat hulle die toekomstige dinge en wat sal gebeur, te kenne gee.
8 Wees nie verskrik nie, en moenie bewe nie! Het Ek jou dit nie lank tevore laat hoor en te kenne gegee nie? En júlle is my getuies! Is daar ’n God buiten My? Ja, daar is geen rotssteen nie; Ek ken geeneen nie.
9 Hulle wat gesnede beelde maak, is almal nietigheid, en hulle lieflinge bring geen voordeel nie; en hulle getuies — dié sien niks en weet niks, sodat hulle beskaamd staan.
10 Wie maak ’n god en giet ’n beeld wat geen voordeel aanbring nie?
11 Kyk, al sy aanhangers sal beskaamd staan; en die ambagsmanne is uit die mense! Laat hulle almal bymekaarkom, gaan staan, verskrik wees, tesame beskaamd staan!
12 Die ystersmid het ’n byl en werk in die gloed; en hy maak hom met hamers en bewerk hom met sy sterk arm; daarby word hy honger en het geen krag nie; drink hy geen water nie, dan word hy moeg.