8 Laat dit drup, o hemele, van bo af, en laat die wolke vloei van geregtigheid; laat die aarde oopgaan, en laat heil voortkom en geregtigheid; laat hulle saam uitspruit. Ek, die Here, het dit geskape.
9 WEE hom wat met sy Formeerder twis — ’n potskerf by erdepotskerwe! Sal dan die klei sê aan die wat dit vorm: Wat maak jy? Of jou werk sê: Hy het geen hande nie!
10 Wee hom wat vir die vader sê: Waarom verwek u? en vir die vrou: Waarom het u weë?
11 So sê die Here, die Heilige van Israel en sy Formeerder: Vra My aangaande die toekomstige dinge; vertrou my seuns en die werk van my hande aan My toe!
12 Ek het die aarde gemaak en die mens daarop geskape; Ek — my hande het die hemel uitgespan, en Ek het aan sy ganse leërskare bevel gegee.
13 Ek het hom verwek in geregtigheid, en al sy weë sal Ek gelykmaak; hý sal my stad bou en my ballinge loslaat sonder koopprys en sonder geskenk, sê die Here van die leërskare.
14 So sê die Here: Die opbrings van Egipte en die handelswins van Kus en die Sabeërs, manne van hoë gestalte, sal na jou toe oorkom en joue wees; hulle sal agter jou loop; in kettings sal hulle oortrek en hulle voor jou buig; hulle sal jou smeek en sê: Waarlik, God is in jou; en anders is daar geen, geen God meer nie!