11 Daarom oorval ’n onheil jou wat jy nie sal weet om te besweer nie; en ’n onheil val op jou wat jy nie kan versoen nie, en skielik oorval jou ’n verwoesting sonder dat jy dit weet.
12 Tree tog op met jou besweringe en met die menigte van jou towerye waarmee jy jou vermoei het van jou jeug af; miskien kan jy iets uitrig, miskien kan jy skrik aanjaag!
13 Jy het jou vermoei met die menigte van jou planne; laat hulle tog optree en jou red — die wat die hemel indeel, die sterrekykers wat elke maand laat weet wat oor jou sal kom.
14 Kyk, hulle het geword soos stoppels, vuur het hulle verbrand; hulle kan hulself nie red uit die mag van die vlam nie — dit is geen kool om by warm te word nie, geen vuur om daarvoor te sit nie!
15 Dit het jy aan hulle — jou koopmans — met wie jy jou vermoei het van jou jeug af; elkeen dwaal sy eie koers; niemand is daar wat jou red nie.