1 HOOR na My, eilande, en luister, volke wat ver is! Die Here het My geroep van die moederskoot af, van my geboorte af het Hy my naam genoem.
2 En Hy het my mond gemaak soos ’n skerp swaard, in die skaduwee van sy hand het Hy My verberg; en Hy het My ’n skerp pyl gemaak, in sy pylkoker My weggesteek;
3 en Hy het vir My gesê: Jy is my kneg, Israel, in wie Ek My verheerlik.
4 Maar Ék het gesê: Tevergeefs het Ek My vermoei, my krag vir niks en vrugteloos verteer! Nogtans is my reg by die Here, en my loon is by my God.
5 En nou sê die Here wat My van die moederskoot af geformeer het om sy Kneg te wees, om Jakob na Hom terug te bring en dat Israel by Hom versamel mag word — en Ek word geëer in die oë van die Here, en my God is my sterkte —
6 Hy het gesê: Dit is te gering dat U my Kneg sou wees om op te rig die stamme van Jakob en terug te bring die gespaardes in Israel: Ek het U gemaak tot ’n lig van die nasies, om my heil te wees tot aan die einde van die aarde.
7 So sê die Here, die Verlosser van Israel, sy Heilige, aan die diep veragte, aan Hom wat ’n afsku is by die volk, ’n Kneg van die heersers: Konings sal dit sien en opstaan, vorste, en hulle sal hul neerbuig ter wille van die Here wat getrou is, van die Heilige van Israel wat U uitverkies het.