14 MAAR Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet!
15 Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!
16 Kyk, Ek het jou in die handpalms gegraveer; jou mure is gedurig voor My.
17 Jou seuns kom gou, maar jou verwoesters en jou vernielers sal van jou af wegtrek.
18 Slaan jou oë rondom op en kyk: hulle almal kom bymekaar, hulle kom na jou toe! So waar as Ek leef, spreek die Here, sekerlik sal jy hulle almal aansit soos ’n versiersel, hulle ombind soos ’n bruid.
19 Want jou puinhope en jou verwoeste plekke en jou verwoeste land — sekerlik, nou sal jy te nou wees vir die inwoners, en die wat jou verslind het, is ver weg!
20 Nog sal die kinders waarvan jy beroof is, voor jou ore sê: Die plek is te nou vir my; maak vir my plek, dat ek kan woon!