9 om te sê aan die gevangenes: Gaan uit! aan hulle wat in duisternis is: Kom te voorskyn! By die paaie sal hulle wei, en op al die kaal heuwels sal hulle weiveld wees.
10 Hulle sal geen honger en geen dors hê nie, en die woestyngloed en die son sal hulle nie steek nie; want hulle Ontfermer sal hulle lei en hulle saggies aanbring na die fonteine van water.
11 En Ek sal al my berge tot ’n weg maak, en my grootpaaie sal opgevul wees.
12 Kyk, hulle hiér kom van ver, en kyk, hulle dáár kom van die noorde en van die weste, en hulle dáár kom uit die land van die Siniete.
13 Jubel, o hemele, en juig, aarde; en berge breek uit in gejubel! Want die Here het sy volk getroos en ontferm Hom oor sy ellendiges.
14 MAAR Sion sê: Die Here het my verlaat, en die Here het my vergeet!
15 Kan ’n vrou haar suigling vergeet, dat sy haar nie ontferm oor die seun van haar skoot nie? Ofskoon hulle sou vergeet, nogtans sal Ék jou nie vergeet nie!