7 Want die wingerd van die Here van die leërskare is die huis van Israel, en die manne van Juda is die tuin van sy verlustiging; en Hy het gewag op reg, maar kyk, dit was bloedvergieting; op geregtigheid, maar kyk, dit was geskreeu!
8 Wee hulle wat huis aan huis trek, akker aan akker voeg, totdat daar geen plek meer is nie, en julle alleen grondeienaars in die land is.
9 In my ore het die Here van die leërskare gespreek: Waarlik, baie huise sal ’n woesteny word, die grotes en mooies sonder inwoner.
10 Want tien morg wingerd sal een enkele bat oplewer, en ’n homer saad sal ’n efa opbring.
11 Wee hulle wat vroeg in die môre klaarmaak om sterk drank na te jaag, wat in die nag láát opbly terwyl die wyn hulle verhit.
12 En daar is siter en harp, tamboeryn en fluit en wyn by hulle maaltyd; maar op die dade van die Here gee hulle geen ag nie, en die werk van sy hande sien hulle nie.
13 Daarom gaan my volk in ballingskap weens gebrek aan kennis, en hulle aansienlikes word hongerlyers en hulle menigte versmag van dors.