2 Hy tog het soos ’n loot voor sy aangesig opgespruit en soos ’n wortel uit droë grond. Hy het geen gestalte of heerlikheid gehad, dat ons Hom sou aansien nie, en geen voorkoms, dat ons Hom sou begeer nie.
3 Hy was verag en deur die mense verlaat, ’n man van smarte en bekend met krankheid; ja, soos een vir wie ’n mens sy gelaat verberg; Hy was verag en ons het Hom nie geag nie.
4 Nogtans het Hý óns krankhede op Hom geneem, en óns smarte — dié het Hy gedra; maar óns het Hom gehou vir een wat geplaag, deur God geslaan en verdruk was.
5 Maar Hy is ter wille van ons oortredinge deurboor, ter wille van ons ongeregtighede is Hy verbrysel; die straf wat vir ons die vrede aanbring, was op Hom, en deur sy wonde het daar vir ons genesing gekom.
6 Ons almal het gedwaal soos skape, ons het elkeen sy eie pad geloop; maar die Here het die ongeregtigheid van ons almal op Hom laat neerkom.
7 Hy is mishandel, hoewel Hy onderworpe was, en Hy het sy mond nie oopgemaak nie; soos ’n lam wat na die slagplek gelei word en soos ’n skaap wat stom is voor sy skeerders — ja, Hy het sy mond nie oopgemaak nie.
8 Uit die druk en uit die strafgerig is Hy weggeneem; en onder sy tydgenote — wie het daaroor gedink dat Hy afgesny is uit die land van die lewendes? Ter wille van die oortreding van my volk was die plaag op Hom.