4 Want so sê die Here aan die ontmandes wat my sabbatte hou en verkies wat My behaag en vashou aan my verbond:
5 Ek sal aan hulle in my huis en binnekant my mure ’n gedenkteken en ’n naam gee wat beter is as seuns en dogters; ’n ewige naam gee Ek aan hulle, wat nie uitgeroei sal word nie.
6 En die uitlanders wat hulle by die Here aangesluit het, om Hom te dien en om die Naam van die Here lief te hê deur sy knegte te wees — elkeen wat die sabbat hou, sodat hy dit nie ontheilig nie, en hulle wat vashou aan my verbond,
7 hulle sal Ek bring na my heilige berg, en Ek sal hulle vreugde laat smaak in my huis van gebed; hulle brandoffers en hulle slagoffers sal welgevallig wees op my altaar; want my huis sal ’n huis van gebed genoem word vir al die volke.
8 Die Here Here wat versamel diegene wat van Israel verdryf is, spreek: Ek sal by hom nog meer versamel, by sy versameldes.
9 AL julle wilde diere van die veld, kom eet! Al julle wilde diere in die bos!
10 Hulle wagte is almal blind, hulle merk niks nie; hulle is almal stom honde wat nie kan blaf nie; wat dromerig lê, lief is om te sluimer.