1 DIE regverdige kom om, en daar is niemand wat dit ter harte neem nie; en die vromes word weggeruk sonder dat iemand daarop let; want die regverdige word weggeruk vanweë die boosheid.
2 Hy gaan in die vrede in: hulle sal rus op hulle bedde — hy wat sy reguit pad loop.
3 Maar julle, kom hierheen, kinders van ’n towerheks, geslag van ’n owerspeler en van haar wat hoereer!
4 Oor wie maak julle jul vrolik? Oor wie spalk julle die mond oop, steek julle die tong uit? Is julle nie kinders van oortreding, ’n leuenagtige geslag nie,
5 wat verhit is by die terpentynbome, onder elke groen boom; wat die kinders slag in die dale, onderkant die rotsklowe?