11 Ons brom almal soos bere, en soos duiwe kir ons aanhoudend; ons wag op reg, maar dit is nie daar nie; op heil — dit bly ver van ons.
12 Want ons oortredinge is baie voor U, en ons sondes getuig teen ons; want ons oortredinge staan voor ons, en ons ongeregtighede — ons ken hulle:
13 die afval en verloëning van die Here en afwyking van agter onse God; die uitspreek van verdrukking en oortreding, die opneem en uitstoot van leuentaal uit die hart.
14 So word dan die reg teruggedring en die geregtigheid bly staan van ver; want die waarheid struikel op die mark, en wat reg is, kan nie binnekom nie.
15 Ja, die waarheid word vermis; en wie afwyk van die kwaad, word geplunder. Toe het die Here dit gesien, en dit was verkeerd in sy oë dat daar geen reg was nie.
16 En Hy het gesien dat daar niemand was nie en Hom verbaas dat niemand tussenbei tree nie; daarom het sy arm Hom gehelp en sy geregtigheid het Hom ondersteun.
17 En Hy het geregtigheid aangetrek soos ’n pantser, en die helm van heil was op sy hoof; en die klere van wraak het Hy aangetrek as kleding en Hom gewikkel in die ywer soos in ’n mantel.