2 maar julle ongeregtighede het ’n skeidsmuur geword tussen julle en julle God, en julle sondes het sy aangesig vir julle verberg, sodat Hy nie hoor nie.
3 Want julle hande is met bloed bevlek en julle vingers met ongeregtigheid; julle lippe spreek leuen, julle tong fluister onreg.
4 Daar is niemand wat aanklaag in geregtigheid en niemand wat ’n regstryd voer in waarheid nie; hulle vertrou op nietigheid en spreek valsheid, met moeite gaan hulle swanger en baar onheil.
5 Basilisk-eiers broei hulle uit, en spinnerakke weef hulle; hy wat van hulle eiers eet, moet sterwe; en as dit stukkend gedruk word, bars daar ’n adder uit.
6 Hulle weefsels deug nie vir klere nie, en met hulle voortbrengsels kan niemand hom toemaak nie; hulle werke is onheilswerke, en die daad van geweld is in hulle hande.
7 Hulle voete hardloop om kwaad te doen en is haastig om onskuldige bloed te vergiet; hulle gedagtes is onheilsgedagtes, verwoesting en verbreking is in hulle paaie.
8 Die weg van vrede ken hulle nie, en daar is geen reg in hulle spore nie; hulle maak hul paaie krom, niemand wat daarop loop, ken die vrede nie.