1 IN die sterfjaar van koning Ussía het ek die Here sien sit op ’n hoë en verhewe troon, terwyl sy some die tempel gevul het.
2 Serafs het bo Hom gestaan; elkeen het ses vlerke gehad: met twee het hy sy aangesig bedek, en met twee het hy sy voete bedek, en met twee het hy gevlieg.
3 En die een het die ander toegeroep en gesê: Heilig, heilig, heilig is die Here van die leërskare. Die hele aarde is van sy heerlikheid vol!
4 En die drumpelposte het gebewe van die geluid van die roepers, en die huis het vol rook geword.