5 Dan sal jy dit sien en straal van vreugde, en jou hart sal ontroer en verruim word; want die rykdom van die see gaan na jou toe oor, die skatte van die nasies kom na jou toe aan.
6 ’n Menigte kamele sal jou oordek, die jong kamele van Mídian en Efa; hulle sal almal uit Skeba kom; hulle bring goud en wierook en verkondig met blydskap die roemryke dade van die Here.
7 Al die kleinvee van Kedar sal vir jou versamel word, die ramme van Nébajot sal jou dien; hulle kom as welgevallige offer op my altaar, en Ek sal my heerlike huis heerlik maak.
8 Wie is dit wat daar aangevlieg kom soos ’n wolk en soos duiwe na hulle vensters?
9 Ja, op My wag die eilande, en die skepe van Tarsis kom vooraan, om jou seuns van ver te bring. Hul silwer en hul goud is by hulle, vir die Naam van die Here jou God en vir die Heilige van Israel, omdat Hy jou heerlik gemaak het.
10 En uitlanders sal jou mure bou, en hulle konings sal jou dien; want in my toorn het Ek jou geslaan, maar in my welbehae het Ek My oor jou ontferm.
11 En jou poorte sal altyddeur oopstaan; hulle sal bedags of snags nie gesluit word nie, om na jou toe aan te bring die rykdom van die nasies en hulle konings in triomftog.