1 EK het My laat raadpleeg deur wie na My nie gevra het nie; Ek het My laat vind deur die wat My nie gesoek het nie; aan ’n nasie wat na my Naam nie genoem is nie, het Ek gesê: Hier is Ek, Hier is Ek!
2 Ek het my hande die hele dag uitgebrei na ’n opstandige volk wat wandel op ’n weg wat nie goed is nie, agter hulle eie gedagtes aan;
3 ’n volk wat My gedurigdeur in die aangesig terg, wat offer in tuine en rook laat opgaan op bakstene;
4 wat in die grafte sit en vernag in verborge plekke; wat varkvleis eet, en daar is brokke onrein vleis in hulle skottels;
5 wat sê: Bly daar! Kom nie naby my nie, want ek is heilig vir jou! Hierdie mense is ’n rook in my neus, ’n vuur wat die hele dag brand.