19 En Ek sal juig oor Jerusalem en bly wees oor my volk; en daarin sal nie meer gehoor word die stem van geween of die stem van geskreeu nie.
20 Daarvandaan sal nie meer kom ’n suigling van ’n paar dae of ’n grysaard wat sy dae nie vol uitlewe nie; want ’n seun sal sterwe honderd jaar oud, en wie sondig, sal, honderd jaar oud, deur die vloek getref word.
21 En hulle sal huise bou en bewoon, en wingerde plant en die vrug daarvan eet:
22 hulle sal nie bou dat ’n ander dit bewoon nie; hulle sal nie plant dat ’n ander dit eet nie; want die dae van my volk sal wees soos die dae van die bome, en my uitverkorenes sal die werk van hulle hande self geniet.
23 Hulle sal hul nie tevergeefs vermoei of baar vir skielike ondergang nie; want hulle is ’n geslag van die wat deur die Here geseën is, en hulle nakomelinge is by hulle.
24 En voordat hulle roep, sal Ek antwoord; terwyl hulle nog spreek, verhoor Ek.
25 Die wolf en die lam sal saam wei, en die leeu sal strooi eet soos ’n bees, en stof sal die voedsel van die slang wees; hulle sal geen kwaad doen of verderf aanrig op my hele heilige berg nie, sê die Here.