2 Toe hulle aan die huis van Dawid berig stuur met die woorde: Die Arameërs het op Efraim toegesak! — het sy hart en die hart van sy volk gebewe soos die bome van die bos bewe voor die wind.
3 En die Here het vir Jesaja gesê: Gaan tog uit, Agas tegemoet, jy en jou seun Sjear Ja-sjub, aan die end van die watervoor van die Boonste Dam, by die grootpad van die Bleikveld,
4 en sê vir hom: Neem jou in ag en wees gerus; wees nie bevrees en laat jou hart nie week word oor hierdie twee rokende stukke brandhout nie — weens die gloeiende toorn van Resin en die Arameërs en van die seun van Remália;
5 omdat Aram onheil teen jou besluit het, Efraim en die seun van Remália, deur te sê:
6 Laat ons optrek teen Juda en dit skrik aanjaag en dit vir ons verower en die seun van Tábeal daaroor koning maak.
7 So sê die Here Here: Dit sal nie tot stand kom nie, en dit sal nie gebeur nie.
8 Want Damaskus is die hoof van Aram, en Resin die hoof van Damaskus, en binne vyf-en-sestig jaar sal Efraim verbreek word, sodat dit geen volk meer is nie;