4 Want voordat die seuntjie kan roep: Vader! of: Moeder! sal hulle die rykdom van Damaskus en die buit van Samaría voor die koning van Assur bring.
5 Verder het die Here nog met my gespreek en gesê:
6 Omdat hierdie volk die waters van Silóa verag wat saggies vloei, en daar vreugde is saam met Resin en die seun van Remália —
7 kyk, daarom sal die Here oor hulle laat opkom die sterk en magtige waters van die Eufraat — die koning van Assur en al sy heerlikheid — en hy sal bo al sy beddings styg en gaan oor al sy walle;
8 en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!
9 Maak geraas, o volke, en — stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en — stort inmekaar; gord julle en — stort inmekaar.
10 Neem ’n besluit, en dit sal verydel word; maak ’n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!