8 en hy sal in Juda indring, instroom en oorloop; tot die nek toe sal hy kom; en die uitbreidinge van sy vlerke sal u land in sy breedte vul, o Immánuel!
9 Maak geraas, o volke, en — stort inmekaar; en luister, alle ver plekke van die aarde! Gord julle en — stort inmekaar; gord julle en — stort inmekaar.
10 Neem ’n besluit, en dit sal verydel word; maak ’n afspraak, en dit sal nie tot stand kom nie; want God is met ons!
11 Want so het die Here met my gespreek toe sy hand my oorweldig het en Hy my vermaan het om nie te wandel op die weg van hierdie volk nie, met die woorde:
12 Julle mag nie alles ’n sameswering noem wat hierdie volk ’n sameswering noem nie, en julle mag nie bevrees wees vir wat hulle vrees, of verskrik wees nie.
13 Die Here van die leërskare — Hom moet julle heilig, en laat Hy julle vrees en Hy julle verskrikking wees!
14 Dan sal Hy vir julle ’n heiligdom wees, maar ’n klip waar ’n mens teen stamp en ’n rots waar ’n mens oor struikel, vir die twee huise van Israel, ’n vangnet en ’n strik vir die inwoners van Jerusalem.