11 Maar strek net u hand uit en tas alles aan wat hy het — waarlik, hy sal U in u aangesig seën!
12 Daarop sê die Here aan die Satan: Kyk, alles wat hy het, is in jou hand; net na homself mag jy jou hand nie uitsteek nie. En die Satan het weggegaan van die aangesig van die Here.
13 En op ’n dag, terwyl sy seuns en sy dogters besig was om te eet en wyn te drink in die huis van hul oudste broer,
14 kom ’n boodskapper na Job en sê: Terwyl die beeste aan ploeë was en die esels aan wei langs hulle,
15 het die Sabeërs ’n inval gedoen en dit weggeroof, en hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
16 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ’n ander een en sê: Die vuur van God het van die hemel geval en gebrand onder die kleinvee en onder die dienaars, en dit het hulle verteer; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.
17 Terwyl dié een nog spreek, kom daar ’n ander een en sê: Die Chaldeërs het drie leërafdelings opgestel en ’n aanval op die kamele gemaak en dit weggeroof, maar hulle het die dienaars met die skerpte van die swaard verslaan; en net ek alleen het ontvlug om u dit te vertel.