1 EK walg van my lewe; ek wil my geklaag die vrye loop gee; ek wil spreek in die bitterheid van my siel.
2 Ek sê tot God: Veroordeel my nie; laat my weet waarom U met my twis.
3 Is dit voordeel vir U dat U verdruk; dat U die arbeid van u hande verwerp, terwyl U oor die planne van die goddelose lig laat skyn?
4 Het U vleeslike oë? Of sien U soos ’n mens sien?
5 Is u dae soos die dae van ’n mens, of u jare soos die dae van ’n man?
6 dat U soek na my ongeregtigheid en vra na my sonde,
7 ofskoon U weet dat ek nie skuldig is nie en dat daar niemand is wat uit u hand kan red nie?
8 U hande het my geformeer en my gemaak, heeltemal rondom; en U vernietig my!
9 Bedink tog dat U my soos klei gevorm het, en wil U my tot stof laat terugkeer?
10 Het U my nie soos melk uitgegiet en my soos kaas laat dik word nie?
11 Met vel en vlees het U my beklee, en met beendere en senings het U my deurvleg.
12 Die lewe, ja, guns het U aan my bewys, en u sorg het my gees bewaak.
13 MAAR daarby het U dít verberg in u hart, ek weet dat dít u toeleg was:
14 As ek gesondig het, sou U my waarneem en my nie vryspreek van my ongeregtigheid nie.
15 Was ek skuldig — wee my! En was ek regverdig, ek sou my hoof nie kon ophef nie, sat van skande en bewus van my ellende.
16 En as my hoof hom ophef, sou U my jaag soos ’n leeu en U opnuut wonderbaarlik teenoor my gedra.
17 U sou altyd nuwe getuies teen my bring en u grimmigheid teen my vermeerder — altyd nuwe leërafdelings teen my!
18 Waarom tog het U my uit die moederskoot laat uitgaan? Ek moes gesterf het sonder dat ’n oog my gesien het.
19 Ek moes gewees het of ek daar nie was nie; van die moederskoot af moes ek na die graf gedra gewees het.
20 Is my dae nie min nie? Laat Hy ophou, my laat staan, dat ek ’n bietjie vrolik kan wees,
21 voordat ek heengaan — en nie terugkom nie — na die land van duisternis en doodskaduwee,
22 ’n land van donkerheid, soos middernag, van doodskaduwee en wanorde, en dit gee ’n skynsel — soos middernag!