3 Daarby was sy besitting seweduisend stuks kleinvee en drieduisend kamele en vyfhonderd paar beeste en vyfhonderd eselinne en ’n groot menigte slawe, sodat dié man ryker was as al die kinders van die Ooste.
4 En sy seuns was gewoond om ’n maaltyd aan te rig in die huis van elkeen op sy dag. Dan stuur hulle en nooi hul drie susters om saam met hulle te eet en te drink.
5 En elke keer as die dae van die maaltye om was, het Job gestuur en hulle geheilig. Dan maak Job die môre vroeg klaar en bring brandoffers vir elkeen van hulle; want Job het gedink: Miskien het my kinders gesondig en God in hulle hart geseën! So het Job altyd gedoen.
6 En op ’n dag toe die seuns van God kom om hulle voor die Here te stel, het die Satan ook onder hulle gekom.
7 Toe vra die Here vir die Satan: Waar kom jy vandaan? En die Satan antwoord die Here en sê: Van ’n swerftog oor die aarde, wat ek deurkruis het.
8 En die Here vra vir die Satan: Het jy ag gegee op my kneg Job? Want daar is niemand op die aarde soos hy nie: ’n man vroom en opreg, godvresend en wat afwyk van die kwaad.
9 En die Satan antwoord die Here en sê: Is dit verniet dat Job God vrees?