12 Uit die stad kerm die manne, en die siel van die gewondes roep om hulp; tog gee God geen ag op die ongerymdheid daarvan nie.
13 SULKE mense behoort by die vyande van die lig: hulle ken nie die weë daarvan nie en bly nie op die paaie daarvan nie.
14 Teen dagbreek staan die moordenaar op, hy maak die arme en behoeftige dood, en in die nag is hy soos die dief.
15 En die oog van die owerspeler neem die skemeraand waar en sê: Geen oog kan my sien nie; en hy sit ’n sluier voor sy gesig.
16 In die duisternis breek hulle in die huise in; bedags sluit hulle hul op; hulle ken nie die lig nie.
17 Want vir hulle saam is die stikdonker ’n môrestond, want hulle ken die verskrikkinge van die stikdonker.
18 Gou dryf hul voort op die oppervlakte van die water; hulle stuk grond word vervloek in die land; hulle begeef hul nie meer op pad na die wingerde nie.