21 Sy vlees verdwyn, weg uit die gesig; en sy gebeente, wat onsigbaar was, steek uit.
22 Ja, sy siel kom nader by die kuil en sy lewe by die dodende magte.
23 Is daar dan vir hom ’n gesant, ’n tolk, een uit duisend, om die mens sy plig te kenne te gee;
24 en is Hy hom genadig en sê: Verlos hom, dat hy in die kuil nie afdaal nie: Ek het ’n losprys gevind —
25 dan word sy vlees fris van jeugdige krag, hy keer terug na die dae van sy jonkheid.
26 Hy bid tot God, en Hy het ’n welbehae in hom, sodat hy sy aangesig sien met gejuig: so vergeld Hy dan aan die mens sy geregtigheid.
27 Hy sing voor die mense en sê: Ek het gesondig en verdraai wat reg is, maar dit is my nie na verdienste vergeld nie.