14 Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.
15 Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ’n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.
16 Ajin. Daarom ween ek, my oog, my oog loop af in water, want ver van my is die trooster wat my verkwik; my kinders is verbyster, omdat die vyand die oorhand het.
17 Pe. Sion brei haar hande uit, sy het geen trooster nie; die Here het die wat rondom hom was, teen Jakob ontbied as sy teëstanders; Jerusalem het in hul midde ’n voorwerp van afsku geword.
18 Sade. Regverdig is Hy, die Here, want ek was teen sy mond wederstrewig. Hoor tog, alle volke, en aanskou my smart; my jonkvroue en my jongmanne het in gevangenskap gegaan.
19 Kof. Ek het geroep na my liefhebbers — hulle het my in die steek gelaat; my priesters en my oudstes het in die stad beswyk toe hulle voedsel vir hulle gesoek het om hulleself te verkwik.
20 Resj. Aanskou, Here, hoe benoud ek is, my ingewande is in beroering, my hart draai om in my binneste, want ek was baie wederstrewig; buitekant het die swaard berowe, binnekant is dit soos die pes.