9 Tet. Haar onreinheid kleef aan haar some, sy het aan haar einde nie gedink nie, en sy het wonderbaarlik gesink, sonder dat sy ’n trooster het. Sien my ellende aan, Here, want die vyand hou hom groot.
10 Jod. Die teëstander het sy hand uitgesteek na al haar kosbaarhede; ja, sy het gesien hoedat heidene in haar heiligdom kom, van wie U bevel gegee het dat hulle in u vergadering nie mag kom nie.
11 Kaf. Haar hele bevolking sug, hulle soek brood, hulle het hul kosbaarhede vir voedsel gegee, om hulleself te verkwik. Aanskou, Here, en merk op dat ek ’n veragte geword het.
12 Lamed. Raak dit julle nie, julle almal wat met die pad verbygaan? Aanskou en kyk of daar ’n smart is soos my smart wat my aangedoen is, waarmee die Here my bedroef het op die dag van sy toorngloed.
13 Mem. Uit die hoogte het Hy vuur gestuur in my gebeente en dit oorweldig, Hy het ’n net voor my voet uitgesprei, Hy het my agteruit laat wyk, Hy het my woes gemaak, die hele dag ellendig.
14 Noen. Die juk van my oortredinge is vasgebind deur sy hand, hulle is saamgevleg, hulle het op my nek gekom, dit het my krag laat struikel. Die Here het my oorgegee in die hande van een teen wie ek geen teëstand kon bied nie.
15 Samek. Die Here het al my magtiges binne-in my verwerp, Hy het teen my ’n feestyd uitgeroep om my jongmanne te verbreek; die Here het die parskuip getrap vir die jonkvrou, die dogter van Juda.