12 Vanweë al my teëstanders het ek ’n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en ’n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
13 Ek is vergeet uit die hart, soos ’n dooie; ek het geword soos ’n ding wat lê en vergaan.
14 Want ek het die skindertaal van baie gehoor — skrik rondom! — terwyl hulle saam raad hou teen my; hulle is van plan om my lewe te neem.
15 Maar ék vertrou op U, o Here! Ek sê: U is my God.
16 My tye is in u hand; red my uit die hand van my vyande en van my vervolgers.
17 Laat u aangesig skyn oor u kneg, verlos my deur u goedertierenheid.
18 Here, laat my nie beskaamd staan nie, want ek roep U aan; laat die goddelose beskaamd staan, laat hulle verstom in die doderyk!