7 Ek haat die wat nietige afgode vereer, maar ék vertrou op die Here.
8 Ek wil juig en bly wees in u goedertierenheid, omdat U my ellende aangesien, my siel in die benoudhede geken het
9 en my nie oorgelewer het in die hand van die vyand nie; U het my voete op vrye grond laat staan.
10 Wees my genadig, Here, want ek is benoud; van verdriet het my oog mat geword, my siel en my liggaam.
11 Want my lewe kwyn weg van kommer en my jare van gesug; my krag struikel deur my ongeregtigheid, en my gebeente teer uit.
12 Vanweë al my teëstanders het ek ’n voorwerp van smaad geword, ja, grootliks vir my bure, en ’n voorwerp van skrik vir my bekendes; die wat my op straat sien, vlug weg van my af.
13 Ek is vergeet uit die hart, soos ’n dooie; ek het geword soos ’n ding wat lê en vergaan.