13 En ek — toe hulle siek was, het ek ’n roukleed gedra; ek het my siel gekwel met vas, en my gebed het teruggekeer in my boesem.
14 Ek het rondgegaan asof dit ’n vriend, asof dit ’n broer van my was; ek het gebuk gegaan in die rou soos een wat oor sy moeder treur.
15 Maar as ek struikel, is hulle bly en kom bymekaar; hulle vergader teen my, lae mense en die wat ek nie ken nie; hulle laster sonder ophou.
16 Onder die roekeloosste tafelspotters kners hulle met hul tande teen my.
17 Here, hoe lank sal U dit aansien? Bring my siel terug van hulle verwoestinge, my enigste van die jong leeus af.
18 Ek sal U loof in ’n groot vergadering; onder ’n groot skare sal ek U prys.
19 Laat hulle oor my nie bly wees wat sonder grond my vyande is nie; laat die wat my sonder oorsaak haat, nie met die oë knip nie!